Advocate. Inform. Empower

Ons verhaal van hoop

Op moedersdag 1996 was ek in sak en as nadat ons al vir 3½ jaar probeer het om swanger te raak en drie in vitro-behandelings ondergaan het sonder sukses.  Ek het begin glo dat en nooit ‘n mamma sou wees nie en was erg depressief.  Om myself te help troos het ek vir my ‘n duur goue ketting gekoop as ‘n ‘onmoedersdag’ geskenk.  Gelukkig het ons verhaal ‘n gelukkige einde en ons is vandag die trotse ouers van vier pragtige kinders – twee tweelinge. Dit is vir my meer werd as al die goud op aarde!

My infertiliteitsprobleme het op driejarige ouderdom begin.  Ek het primêre peritonitis (buikvliesontsteking) opgedoen wat die binnekant van my fallopiese buise erg beskadig (basies vernietig) het.  Die dokters wat my destyds behandel het, het my ouers ingelig dat ek heel waarskynlik nooit normaal swanger sou kon raak nie.  My pa het hierdie nuus met my gedeel toe ek ‘n student was.  Ek het bly hoop dat hulle dalk ‘n fout gemaak het aangesien ek baie graag kinders wou hê, synde die tweede oudste van vyf kinders.

Op 22-jarige ouderdom het ‘n ginekoloog ‘n groot sist op my regtereierstok ontdek, waarvoor ek ‘n laparotomie moes ondergaan.  Ná die operasie het hy my ingelig dat hy al die organe moes herrangskik en heelwat bindweefsel wat deur die vorige operasie veroorsaak is, moes verwyder.  Hy het ook die buise getoets en gevind dat hulle oop was.  Ek was dus vol vertroue dat ek nie verdere probleme sou ondervind nie en is twee jaar later met Andries getroud.  Ná twee jaar se getroude lewe het ons gevoel dat die tyd ryp is om met ‘n gesin te begin en het ek met blydskap ‘die pil’ in die asblik gegooi…. en dit is waar ons werklike groot stryd met die infertiliteitsmonster begin het.

Die volgende drie jaar en agt maande was ‘n warboel van behandelings, operasies, hoopvolheid, diepe teleurstellings, erge depressies en alles wat saam met infertiliteit gaan – eintlik verstaan slegs ander mense wat reeds dieselfde paadjie geloop het, die emosionele impak daarvan.  Dis iets wat ek nie my grootste vyand toewens nie.

Na agt maande van ‘probeer vir ‘n baba’, het ons weer die ginekoloog gaan spreek.  Ek het hom ook ingelig van die verdoemende uitspraak van die dokters van jare gelede, maar hy was oortuig dat daar niks ernstig fout is nie en dat hy ons sommer vinnig sou kon help.  Ek moes ‘n temperatuurkaart invul en my man moes vir ‘n semenanalise aanmeld.  Bloed is by my getrek om ovulasie te bevestig.  Geen fout kon gevind word nie.  Die eerste vorm van ‘behandeling’ was gereelde sonarondersoeke om die ontwikkeling van die follikels te monitor saam met omgang op doktersbevel.  Hierdie ‘behandeling’ het vir etlike maande voortgeduur sonder enige sukses.  Kort voor lank moes ek weer ‘n laparotomie vir ‘n sist ondergaan, waartydens die dokter toe ook endometriose oral in my buikholte ontdek het. Die endometriose is verwyder (dit groei egter baie gou weer terug) en ons moes voortgaan op die ou paadjie.  Ons het toe reeds vir die ginekoloog gevra of in vitro behandeling nie dalk die oplossing sou wees nie, maar hy was erg optimisties dat sy metode sou werk en dat drastiese stappe nog nie nodig was nie.

Later het ons oorgeskakel na hierdie ginekoloog se vennoot wat meer genoë daartoe was om met in vitro te begin. Met ons eerste probeerslag is daar vyf eiertjies onttrek, waarvan vier bevrug geraak het en waarvan drie aanhou groei en verdeel het.  Die drie kosbare embriotjies is in my baarmoeder teruggeplaas en ons was vol hoop dat dit suksesvol sou wees, maar nog voor dit tyd was vir die bloedtoets, het my maandstonde opgedaag.  Die dokter kon nie ‘n verduideliking gee nie, behalwe dat die kanse vir sukses slegs 25% per poging is en dat ons dus maar net weer moes probeer.  Dieselfde dokter het ons deur nog twee pogings laat gaan met presies dieselfde protokol en medikasie as die eerste keer en elke keer het die siklusse op dieselfde wyse geëindig.  Ons het dus drie pogings teen ongeveer R9 000 per poging (eie koste – nie gedek deur mediese fonds nie) deurloop sonder enige sukses. Dit was emosioneel uitmergelend.  Ons het begin ondersoek instel na aanneming en selfs begin spekuleer oor wie ons kon vra om as ‘n surrogaatma vir ons op te tree.  Tussendeur het ek ook nog twee laparoskopieë ondergaan vir siste en endometriose.  Ons was plat teen die grond.

Alles het verander toe ek eendag die telefoonnommer van Dr Gobetz van Vitalab by ‘n vriendin kry.  Ons het besluit om die infertiliteitspesialis te gaan spreek in ‘n laaste, desperate poging om swanger te raak en was aangenaam verras met die professionalisme van die praktyk.  Ons het uiteindelik by ‘n ginekoloog uitgekom wat slegs met infertiliteit werk en nie die ‘normale take’ van ‘n ginekoloog ook hoef te behartig nie.  Hy het reeds tydens ons eerste besoek genoem dat hy dink die hormoonvlakke ná terugplasing van die embrios, nie reg was nie en dat dit die rede vir die mislukking daarvan was, maar hy het ons beide ook eers deeglik laat toets op verskeie wyses voordat daar met enige behandeling begin is.  Elke moontlike oorsaak vir ons infertiliteit is ondersoek.  Na vier maande was ons gereed vir ons vierdie in vitro poging.  Dit het begin met die neem van ‘die pil’ vir 21 dae – heel ironies.  Daarna het ondervel inspuitings gevolg vir die onderdrukking van voortydige ovulasie, gevolg deur binnespier inspuitings vir die stimulasie van die eierstokke om genoegsame eiertjies te produseer.  Na ongeveer twee weke is daar 14 eiertjies geoes waarvan 10 bevrug geraak en aanhou verdeel het.  Die beste vier is geselekteer en 48 uur later teruggeplaas in my baarmoeder – ek was in trane van vrees vir mislukking, maar het ook hard gebid vir sukses.  Al ons vriende en familie het saam met ons gebid vir ‘n positiewe uitkoms.  Ek moes estrogeen tablette, progestoroon inspuitings, kortisoontablette en lae dosis aspirien gebruik vanaf terugplasing.  Ek was steeds nie baie hoopvol toe ek 19 dae later die oggend my bloed laat trek het nie.  Dr Gobetz het my self geskakel met die uitslag – positief – ek was heeltemaal histeries.  Ek het deurmekaar gelag en gehuil toe ek hoor dat ek uiteindelik swanger was na al die teleurstellings!  Twee weke later het ons met die eerste sonarondersoek uitgevind dat ons ‘n tweeling verwag! Ons was in die wolke van blydskap en dankbaarheid.  Kobus en Isabel is op 35 weke gebore – so gesond soos kan kom. Ons beker van geluk het oorgeloop.

Ek en Andries het later begin gesels oor die moontlikheid van nog kinders en het besluit dat ons graag nog enetjie (of tweetjies) wou hê.  Toe die oudste twee 3½ jaar oud was, is ons terug na Vitalab vir nog ‘n behandeling.  Hierdie keer is 7 eierselletjies onttrek waarvan 5 nornaal bevrug geraak het en vier aanhou verdeel het.  Drie dae later is al vier embrios (3 x 7-sel en 1 x 4-sel) teruggeplaas en het ons en almal wat ons ken weer gebid vir sukses.  Twee weke later het ons uitgevind dat die uitslag positief is en drie weke daarna het ons tot ons groot vreugde weer twee hartjies op die sonar sien klop.  Daniel en Simon is op 37 weke gebore – net so gesond soos die eerste twee en met presies dieselfde geboortegewigte!

Kobus en Isabel is reeds vyf jaar oud en Daniel en Simon is 10 maande oud.

Vandag kan ek net dankie sê dat ons uiteindelik aan die regte deur gaan klop het vir die regte hulp.  Ons het geleer dat ‘n mens die beste spesialis vir jou spesifieke probleem moet vind en nooit ophou glo en hoop nie.  Aan God al die eer!

 

Tags: #1in6

Leave a comment

Get the IFAASA newsletter.